Proses

Die Selfbeskikkingsproses

Afrikaners se selfbeskikkingsveldtog sal op twee bene staan:

  1. Plaaslike steun:
    1. Afrikaners wat in die afgebakende gebied bly moet die wil toon om beheer te neem oor hul eie lot. Dus moet daar omvangryke steun wees vir selfbeskikking binne die afgebakende gebied. Afrikaners in die afgebakende gebied moet ‘n mandaat gee vir ‘n entiteit om namens hulle te onderhandel vir selfbeskikking.  In die finale fase van die onderhandelingsproses sal daar ‘n selfbeskikkingsreferendum onder stemgeregtigde permanente inwoners van die gebied gehou word met ‘n 50% + 1 stem  om te bepaal of dit kan geskied. Mense wat buite die gebied woon, kan ook die proses steun, maar hul stem tel nie.
  2. Internasionale steun:
    1. Druk moet deur die internasionale gemeenskap op die RSA regering uitgeoefen word om eerlik te onderhandel.  Afrikaners moet dus ook internasionale steun opluister op hoë vlak. Indien Afrikaners daarin slaag om  onafhanklikheid  te verklaar,  is erkening van soewereniteit deur ander state (intetnasionale gemeenskap) deurslaggewend volgens die konvensie van Montevideo 1933. Dis nie net terwille van erkening van soewereniteit nie, maar ook vir die afdwing van soewereniteit sowel as  ontwikkelingshulp and ander hulp wat nodig sal wees.

Om die rede is dit uiters noodsaaklik dat Afrikaners seker maak dat hulle voldoen aan internasionale regsvereistes en internasionale menseregte indien hulle steun uit die internasionale gemeenskap verwag, veral gesien in die lig van Afrikaners se Apartheidverlede.

Die Stappe in die proses van selfbeskikking:

  1. Bepaal ‘n Gebied waar Afrikaners die sterkste aanspraak vir selfbeskikking ooreenkomstig internasionale regsbeginsels het. Sonder ‘n gebied waarop aanspraak gemaak word, kan daar nie ‘n mandaat verkry word nie.
  2. Daar moet ‘n intensiewe bewusmakingsveldtog vir selfbeskikking  onder Afrikaners en hul assosiate geloods word, veral in die afgebakende gebied om steun vir die proses te ontwikkel.
  3. Terselfdertyd moet daar internasionale steun gewerf word – veral by ons stamlande se regerings – vir Afrikaner-selfbeskikking en selfs onafhanklikheidserkenning.
  4. Daar moet ‘n top onderhandelingspan saamgestel word wat bestaan uit ervare internasionale selfbeskikkingsonderhandelaars en deskundiges sowel as plaaslike  deskundiges op verskeie tereine.
  5. Daar moet ‘n gebiedsmandaat van Afrikaners en hul kultuurgenote in die afgebakende gebied verkry word om te onderhandel vir selfbeskikking.
  6. Teen die einde van die onderhandelingsproses sal daar ‘n referendum in die afgebakende gebied gehou word om te bepaal of die meerderheid selfbeskikking steun. Indien die onderhandelings onsuksesvol is en selfbeskikking kan nie realiseer nie, sal die referendum vir eensydige onafhankliheid dieselfde werk as vir selfbeskikking.
  7. Indien ‘n meerderheid (50% +1) vir selfbeskikking stem, kan die proses finaliseer word.

Stappe 2 en 3 sal volgehou word tot en met die selfbeskikkingreferendum.

Benader die proses van die begin af op so ‘n manier dat volle onafhanklikheid dalk eensydig oor die afgebakende gebied uitgeroep sal moet word, sou vreedsame onderhandelinge vir selfbeskikking skipbreuk ly, nadat alle interne remedies uitgeput is.